Gaan na inhoud

Verdrag van Tordesillas

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Die Verdrag van Tordesillas.
Koloniale afbakeningslyne tussen Kastilië/Spanje en Portugal in die 15de en 16de eeue. (As 'n gevolg van die Verdrag van Tordesillas en Verdrag van Saragossa)

Die Verdrag van Tordesillas (ook soms bekend as die Pouslike Afbakeningslyn of Tordesillas-lyn) van 1494 het die hele bekende wêreld van die tyd (afgesien van Europa) tussen Spanje en Portugal verdeel.

Voorspel

[wysig | wysig bron]

In 1479 het Portugal en Spanje ‘n verdrag gesluit wat aan Spanje beheer oor die Kanariese Eilande en aan Portugal oor die kus van Afrika suid van daardie eilande gegee het. Die ooreenkoms is op 21 Junie 1481 deur pous Sixtus IV in die pouslike bul (‘n bevelskrif) getiteld Aeterni regis vasgelê. Toe Columbus in 1492 die Nuwe Wêreld ontdek, vra die Spaanse heersers Isabella I van Kastilië en Ferdinand II van Aragon aan die Spaansgebore pous Alexander VI om as arbiter op te tree. Die nuwe skeidslyn is in die bul getiteld Inter caetera van 4 Mei 1493 vasgestel. Dit het bepaal dat die skeidslyn tussen die invloedsfere van Spanje en Portugal nie van wes na oos moes loop nie, maar van noord na suid en wel wes van die Asore en die Kaap Verdiese Eilande. Spanje verkry die alleenreg op alle ontdekte gebied en gebied wat nog ontdek moes word wes van die lyn. Koning Johan II van Portugal was nie hiermee tevrede nie, want hul skepe op die reise na en van die Ooste moes baie verder weswaarts vaar om by die gunstige winde baat te vind. Dit lei tot die Verdrag van Tordesillas.

By ‘n ooreenkoms tussen Ferdinand II en Isabella I van Spanje en koning Johan II van Portugal bereik te Tordesillas in die noordweste van Spanje is die pous se dekreet van 1493 bevestig, maar die grenslyn is verder weswaarts vasgestel so halfpad tussen die Kaap Verdiese eilande en die eilande wat Columbus op sy eerste reis ontdek het om so aan Portugal se versoek te voldoen. Dit is op 7 Juie 1494 opgestel en in 1506 deur pous Julius II bekragtig. Portugal het so onwetend in besit gekom van ‘n deel van die ooskusstrook van Suid-Amerika en vaar sy skepe nie meer deur Spaanse gebiedswaters nie. Spanje se besitreg van die Kanariese eilande is erken en Portugal kon Madeira, die Asore en die Kaap Verdiese eilande behou en Portugal se handelsmonopolie in Wes-Afrika is bevestig. Hierdie verdeling het Spanje bevoordeel. Dit was juis die Spaansgebore Alexander VI se bedoeling. Metterjare is die grenslyn stadig weswaarts aangepas.

Gevolge

[wysig | wysig bron]

Beide lande het die verdrag aanvaar. Presies waar die grenslyn geloop het, was nooit heeltemal duidelik nie, want die korrekte bepaling van lengtegrade het nog nie bestaan nie. Boonop is die afstande in leuga aangegee, waarvan die presiese lengte soms van land tot land en selfs van tyd tot tyd verskil het. Toe later verdere ontdekkings in Suid-Amerika plaasgevind het, het geblyk dat groot deel van die huidige Brasilië ook oos van die lyn was. Daarom word die land ‘n Portugese kolonie en is vandag Portugeessprekend. Met die opkoms van ander ontluikende koloniale moondhede vroeg in die 17de eeu is hierdie verdeling van die aardbol tussen Portugal en Spanje deur Engeland, Nederland en Frankryk verwerp en geïgnoreer. Portugal kon nou die soektog na 'n seeweg na die Ooste begin deur Bartolomeus Dias voortsit.

Spaanse konings

[wysig | wysig bron]
  • Ferdinand V (“die Katoliek”), *1452 - †1516, Spaanse koning van 1479 tot 1516. Trou met Isabella van Kastilië, regeer saam Kastilië 1474 tot 1504. Word Ferdinand II van Aragon in 1479. Unie van die twee koninkryke is die begin van die moderne Spanje. Hy voltooi die herowering van dele van Spanje beset deur die More. Stel die Inkwisisie in. Ding met Portugese mee oor koloniale uitbreiding. Finansier Columbus se reis in 1492.
  • Isabella I, *1451 - †1504, koningin van Kastilië en Leon van 1474 tot 1504. Trou in 1469 met Ferdinand II van Aragon, wat saam met haar beide koninkryke regeer as Ferdinand V.

Lees ook

[wysig | wysig bron]

Bibliografie

[wysig | wysig bron]
  • britannica.com
  • education.nationalgeographic.org
  • the-map-as-history.com
  • vividmaps.com